Kontak nommer = (051)653-1715 : Kerk Straat, Burgersdorp, 9744
Drie van Hoërskool Burgersdorp se rugbyspelers is gekies vir die OP Plattelandse Akademie Span. Baie geluk aan Jaco Basson, Tjaart Coetsee en Tosias van Zyl. (Foto)

Vrydag 16 Mei was dit weer sulke tyd : ATKV Redenaars-Uitdunronde in Oos-Londen. Die senuwees het maar lekker geknaag, maar gelukkig is ons al gewoond daaraan – dit is alles deel van die pakket! En toe doen hulle dit weer! Twee Blikkies dring deur na die Halfeindronde op 20 Junie te Port Elizabeth. Baie geluk aan Marli Maritz (links op foto) en Cordi Lourens. Ons is sommer baie trots op julle. Julle was voorwaar die meestes van die oomblik, ook met die onvoorbereide toesprake!
Aan ons Hemelse Vader wat vir ons die vermoë gegee het om te redeneer, BAIE DANKIE! Ons doen dit graag tot eer en verheerliking van Sy naam.

Op Woensdag 7 Mei 2008 het ‘n oudskolier, mnr H M (Harry) van der Walt, ons skool besoek.
Oom Harry was 51 jaar terug in Matriek te BHS. Hy was baie trots om te sien dat die rugby-skild in ons voorportaal staan en het met trots uitgewys dat sy naam ook op dié skild pryk. Hy was kaptein gedurende 1957!
Oom Harry is woonagtig te Brakpan en is ‘n kranige fietsryer. Toe hy ons besoek het, was hy juis oppad Oos-Londen toe om aan ‘n fietswedren deel te neem.
Dit was vir hom ‘n eer om saam met die huidige kaptein, Tosias van Zyl en onderkaptein, Jaco Basson, vir ‘n foto te poseer. En vir BHS is dit ‘n eer om te weet dat oudskoliere na 51 jaar nog steeds hul alma mater onthou en mooi herinneringe met hul saamdra.

Die tweede kwartaal het afgeskop met Dorpsproewe op 14 April. Daar is ‘n 0/15, 0/16, 0/17 en 0/19-span gekies wat op Woensdag 16 April aan die Gariepproewe deelgeneem het. Verskeie van ons leerders is hier gekies om aan die Ukhahlamba-proewe deel te neem. Wanneer hierdie proewe gaan plaasvind wonder ons, want ons wag vir die Onderwysdepartement om ons in te lig oor die datum.
Die 0/15 en 0/17 Oos-Kaapproewe vind op 7/8 Junie in Oos-Londen plaas. Die Oos-Kaapspanne gaan 7/8 Julie aan die All Ages Toernooi in Durban deelneem.
Die 0/26 Cycads span gaan 4/5 Julie aan ‘n sateliet-toernooi in Kimberley deelneem en die 0/19 Cycads span gaan vanaf 6 – 12 Julie aan die nasionale toernooi in Oos-Londen deelneem. Voorlopig vind die 0/16 en 0/19-proewe op 17 Mei in Cradock plaas.
Saterdag, 19 April het Burgersdorp afgeskop met ‘n wedstryd teen Stutterheim. Dit was ‘n baie goeie begin vir die netbalseisoen. Die 0/14-span wen 36 – 9 en die 0/16-span 27 – 5. Vir die begin van die seisoen het beide spanne goeie netbal gespeel. Die Eerste span het ‘n “walk-over” gehad! Hulle wen 53 – 5! An-mari Putter het Vrydag aan ASA se atletiekbyeenkoms in Pretoria deelgeneem en letterlik deur die nag gery om Saterdag netbal te speel. Dit het eerder gelyk of haar opponent deur die nag gery het, want teen halftyd het An-mari haar kis gespeel en het dit gelyk of sy nie ‘n opponent het nie. Dankie An-mari!
Sarita Smit is as die speelster van die wedstryd aangewys.
Yet so near and yet so far!
Vrydag 25 April het ons weer ons jaarlikse kragmeting teen Cradock gehad. Daar was veral opgewondenheid by die Eerste Netbal en ons het uitgesien na die wedstryd. Alhoewel die spanne baie goed gespeel het, was Cradock weereens net daai ietsie beter as ons. Ons verloor 21 – 26. Nelisiwe Moleka is as speelster van die wedstryd aangewys. Die ander spanne het baie goed gevaar en ons wen al die ander wedstryde. Ons vertrou daar lê ‘n goeie seisoen vir die netbal voor.
Die Junior Atletiekkampioenskappe is vanaf 18 tot 19 April 2008 aangebied. Dit was ‘n prestige geleentheid wat voldoen het aan alle vereistes soos voorgeskryf deur Atletiek Suid-Afrika (ASA).
Altesaam 1088 atlete het by die LC de Villiers Stadion van Universiteit Pretoria deelgeneem. Atlete wat aan Junior Kampioenskappe deelneem, sluit atlete uit skole sowel as Junior atlete (0/19-atlete) van Universiteite oor die hele land in!
Wonderlik dan dat 5 van dié 1088 atlete uit Burgersdorp afkomstig was. Hulle is An-Mari Putter, Dreyer Goosen, Neels van Huyssteen, Jason de Lora en Lena-Lisa Retief.
Al Burgersdorp se atlete het presteer deurdat hulle daarin geslaag het om hul persoonlike beste tye te hardloop. Om op so ‘n groot byeenkoms teen top-atlete van die land te kompeteer is alreeds ‘n geweldige eer! Baie geluk aan almal!
An-Mari Putter was die enigste atleet wat in die finale deelgeneem het. Sy slaag daarin om ‘n 7de plek te behaal in die 100mH finale. Baie geluk, ons is trots op jou!

Op 1 Maart het die Eerste Netbalspan aan Fichardtpark se jaarlikse sportdag gaan deelneem.
Wat ‘n belewenis! Daar was tennis, skaak, golf, sokker, hokkie, rugby en netbal. ‘n Hele 55 skole en 5 000 leerders was betrokke.
Daar is op 9 netbalbane 24 rondtes gespeel, dus 216 wedstryde! Logies kon ons nie teen die topskole in die Vrystaat meeding nie. Ons het teen Brandfort 11 – 7 gewen, teen Voortrekkers B 13 – 8. Teen Noord-Kaap B was die bal moedswillig en wou nie deur die ring gaan nie en speel ons gelykop 10 elk.
Dit was beslis die moeite werd om te gaan, goeie opwarming vir die seisoen en lekker om deel te wees van so ‘n puik georganiseerde sportdag.
Ons het darem nie net netbal gespeel nie. So op skrikkeljaardag het ons ook ‘geshop’, gefliek, roltrap gery en gees gevang.
‘n Spesiale dankie aan tannie Esther Goosen wat ons geneem het, aangesien ons skoolbus nou ‘n taxi is!
Die eerste rugbyspan speel op Saterdag 1 Maart teen Maclear se eerste span en die telling is 18 – 8 in Burgersdorp se guns. Twee drieë word gedruk deur Arno van Damme en Tosias van Zyl. Ian Greyvenstein verdoel een drie en skop 2 strafdoele oor. Vir ‘n eerste wedstryd in die seisoen het dit goed gegaan gedurende die eerste helfte. In die tweede helfte het ‘n gebrek aan fiksheid en hanteerfoute ons kanse om drieë te druk benadeel. Die beste voorspeler is Arno van Damme en die beste agterspeler Ian Greyvenstein.
Die tweede span speel dieselfde dag ook op Maclear teen Dordrecht se eerste span. Na ‘n baie goeie begin met ‘n drie in die eerste minuut het dinge begin uitrafel. Die totaal onbekwame skeidsregter het sake nie verbeter nie en ons moes terugveg om die wedstryd 12 – 12 gelykop te maak. Drieë : Shami Eksteen (2). Doelskop : Shami Eksteen (1).
Die skool se tennis sluit vir die jaar op ‘n goeie noot af met die bywoning van Fichardpark se sportdag in Bloemfontein waar 14 skole teenwoordig was. BHS se tennisspelers het uitstekend gevaar! Die eerste vier seuns en 4 meisies het die mense gewys wat ‘n ware Blikkie is.
In die B-liga het die seuns die finaal gehaal en hul teenstanders was Diamantveld (B-span).
Hulle het goed gevaar, maar ongelukkig die finaal verloor. Dit is nog steeds puik en ons is trots op julle! Die meisies het derde geëindig en die finaal met slegs 1 punt verloor. Volgende jaar gaan hulle terug en dan is die finaal Blikkies s’n!!
Baie dankie aan ‘n wonderlike Blikkies span en dankie ook aan juffrou Melani en oom Pierre de Klerk wat die spelers Bloemfontein toe geneem het. Die dag was ‘n BELEWENIS!
Foto :
Agter : Abé de Vries, Adriaan Oosthuizen, Dreyer Goosen & Cobus Greeff.
Voor: Lizé Smit, Danné van den Berg, Lena-Lisa Retief en Elzanne van Aardt.

(079)892-8188
(072)806-1748
News@
Burgersdorp.ZA.NET
NO Permission to copy
Anything!